Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 20:26-34 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

26. En Saul het dié dag niks gepraat nie, want hy het gedink: Daar het iets met hom gebeur dat hy nie rein is nie; waarlik, hy is nie rein nie.

27. Maar toe op die volgende, die tweede dag na die nuwemaan, Dawid se plek leeg was, sê Saul vir sy seun Jónatan: Waarom kom die seun van Ísai gister sowel as vandag nie na die maaltyd nie?

28. En Jónatan het Saul geantwoord: Dawid het my dringend verlof gevra na Betlehem toe

29. en gesê: Laat my tog gaan, want ons het ’n familie-offer in die stad, en my broer self het my laat roep. As ek dan nou guns in jou oë gevind het, laat my tog heengaan om my broers te besoek. Daarom het hy nie aan die koning se tafel gekom nie.

30. Toe ontvlam die toorn van Saul teen Jónatan, en hy sê vir hom: Jou ontaarde, wederstrewige seun, weet ek nie dat jy die seun van Ísai verkies tot jou skande en tot skande van jou moeder se naaktheid nie?

31. Want al die dae dat die seun van Ísai op die aarde lewe, sal jy en jou koningskap nie bevestig word nie; stuur dan nou en bring hom na my, want hy moet sterwe.

32. En Jónatan het sy vader Saul geantwoord en vir hom gesê: Waarom moet hy gedood word, wat het hy gedoen?

33. Daarop gooi Saul die spies na hom om hom te tref. Toe Jónatan dan merk dat dit van sy vader se kant vas besluit was om Dawid dood te maak,

34. staan Jónatan op van die tafel in gloeiende toorn, en hy het geen brood geëet op die tweede dag van die nuwemaan nie, want hy was bedroef oor Dawid, omdat sy vader hom smadelik bejeën het.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 20