Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 2:20-30 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

20. Dan seën Eli Élkana en sy vrou en sê: Mag die Here jou ’n nageslag gee uit hierdie vrou ter vergoeding van wat aan die Here afgestaan is. Daarop gaan hulle na sy woonplek toe.

21. En die Here het ag gegee op Hanna, sodat sy swanger geword en nog drie seuns en twee dogters gebaar het; en die seun Samuel het groot geword by die Here.

22. Maar Eli was baie oud, en as hy hoor alles wat sy seuns aan die hele Israel doen, en dat hulle gemeenskap hou met die vroue wat dien by die ingang van die tent van samekoms,

23. dan sê hy vir hulle: Waarom doen julle sulke dinge, dat ek van hierdie hele volk julle slegte dinge moet hoor?

24. Dit moenie wees nie, my seuns, want dit is geen goeie gerug wat ek hoor nie; julle maak dat die volk van die Here oortree.

25. As mens teen mens sondig, dan beslis die owerheid oor hom, maar as ’n mens teen die Here sondig, wie sal dan vir hom as skeidsregter optree? Maar hulle het nie na hul vader geluister nie, want die Here wou hulle ombring.

26. Maar die seun Samuel het toegeneem in grootte en in guns by die Here sowel as by die mense.

27. EN daar het ’n man van God by Eli gekom en vir hom gesê: So spreek die Here: Het Ek My nie duidelik geopenbaar aan die huis van jou vader toe hulle in Egipte in die huis van Farao was nie?

28. En Ek het hom vir My as priester uitgekies uit al die stamme van Israel om op my altaar te klim om die reukwerk aan die brand te steek, om die skouerkleed te dra voor my aangesig; en Ek het aan die huis van jou vader al die vuuroffers van die kinders van Israel gegee.

29. Waarom verag julle my slagoffer en my spysoffer wat Ek in my woning beveel het, en eer jy jou seuns meer as vir My deur julle vet te voer met die beste van elke offergawe van my volk Israel?

30. Daarom spreek die Here, die God van Israel: Ek het wel duidelik gesê: Jou huis en die huis van jou vader sal voor my aangesig wandel tot in ewigheid. Maar nou spreek die Here: Dit is ver van My; want die wat My eer, sal Ek eer; maar die wat My verag, sal veragtelik wees.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 2