Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 15:24-35 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

24. Toe sê Saul vir Samuel: Ek het gesondig, omdat ek die bevel van die Here en u woorde oortree het, want ek was bevrees vir die manskappe en het na hulle geluister.

25. Vergeef dan nou tog my sonde en kom met my saam terug, dat ek die Here kan aanbid.

26. Maar Samuel sê vir Saul: Ek sal nie met jou saam teruggaan nie, omdat jy die woord van die Here verwerp het, en nou het die Here jou verwerp om koning oor Israel te wees.

27. Toe Samuel hom omdraai om weg te gaan, gryp hy die slip van sy mantel, maar dit het afgeskeur.

28. En Samuel sê vir hom: Vandag het die Here die koningskap oor Israel van jou afgeskeur en dit aan jou naaste gegee wat beter is as jy.

29. En ook lieg die Roem van Israel nie, en Hy ken geen berou nie; want Hy is geen mens, dat Hy berou sou hê nie.

30. En hy sê: Ek het gesondig; eer my tog nou voor die oudstes van my volk en voor Israel, en kom saam met my terug, dat ek die Here u God kan aanbid.

31. Samuel het toe teruggegaan agter Saul aan, en Saul het die Here aanbid.

32. Daarop sê Samuel: Bring Agag, die koning van Ámalek, na my toe. Terwyl Agag dan opgeruimd na hom gaan, sê Agag: Waarlik, die bitterheid van die dood het gewyk.

33. Maar Samuel het gesê: Soos jou swaard vroue kinderloos gemaak het, so sal jou moeder onder die vroue kinderloos wees. Daarop het Samuel Agag in stukke gekap voor die aangesig van die Here in Gilgal.

34. Daarna gaan Samuel na Rama, en Saul het opgegaan na sy huis, na Gíbea van Saul.

35. En Samuel het Saul tot die dag van sy dood nie meer gesien nie, want Samuel het getreur oor Saul; en die Here het berou gehad dat Hy Saul koning gemaak het oor Israel.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 15