Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 12:14-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

14. As julle maar die Here vrees en Hom dien en na sy stem luister en nie wederstrewig is teen die mond van die Here nie en julle self sowel as die koning wat oor julle regeer, die Here julle God maar volg!

15. Maar as julle nie na die stem van die Here luister nie en wederstrewig is teen die mond van die Here, dan sal die hand van die Here teen julle wees soos teen julle vaders.

16. Gaan dus staan, en kyk na hierdie groot saak wat die Here voor julle oë gaan doen.

17. Is dit nie koringoestyd vandag nie? Ek sal die Here aanroep, dat Hy donderslae en reën gee: weet dan en sien dit in dat julle kwaad groot is wat julle in die oë van die Here gedoen het deur ’n koning vir julle te begeer.

18. Toe het Samuel die Here aangeroep, en die Here het donderslae en reën op dié dag gegee, sodat die hele volk baie bevrees geword het vir die Here en vir Samuel.

19. Daarom het die hele volk vir Samuel gesê: Bid tot die Here u God vir u knegte, dat ons nie sterf nie, omdat ons by al ons sondes nog kwaad gedoen het deur ’n koning vir ons te begeer.

20. Toe sê Samuel vir die volk: Wees nie bevrees nie. Julle het al hierdie kwaad gedoen; maar wyk nie van die Here af nie, en dien die Here met julle hele hart.

21. En julle mag nie afwyk nie, want dan gaan julle agter nietige afgode aan wat nie kan help of red nie, omdat hulle nietighede is.

22. Want die Here sal sy volk ter wille van sy grote Naam nie verwerp nie, omdat dit die Here behaag het om van julle vir Hom ’n volk te maak.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 12