Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 29:8-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. En by wie edelgesteentes gevind is, hulle het dit gegee vir die skat van die huis van die Here onder toesig van Jéhiël, die Gersoniet.

9. En die volk was bly oor hulle gewilligheid, want met ’n volkome hart het hulle vrywillig aan die Here gegee, en ook koning Dawid was baie bly.

10. EN Dawid het die Here geloof voor die oë van die hele vergadering, en Dawid het gesê: U sy geloofd, Here, God van ons vader Israel van ewigheid tot ewigheid.

11. Aan U, Here, kom toe die grootheid en die mag en die heerlikheid en die roem en die majesteit, ja, alles in hemel en op aarde; aan U, Here, kom toe die koningskap en die selfverhoging as Hoof oor alles.

12. En die rykdom en die eer kom van U, en U heers oor alles; en in u hand is krag en mag, en in u hand is dit om alles groot en sterk te maak.

13. En nou, onse God, ons loof U, en ons prys u heerlike Naam.

14. Want wie is ek tog, en wat is my volk, dat ons in staat sou wees om sulke vrywillige gawes te skenk? Want dit kom alles van U, en uit u hand het ons dit aan U gegee.

15. Want ons is vreemdelinge en bywoners voor u aangesig soos al ons vaders; ons dae op die aarde is soos ’n skaduwee, en daar is geen verwagting nie.

16. Here onse God, hierdie ganse rykdom wat ons berei het om vir U, vir u heilige Naam, ’n huis te bou — dit kom uit u hand en dit behoort alles aan U.

17. En ek weet, my God, dat U die hart toets en behae het in opregtheid; ek het in die opregtheid van my hart al hierdie dinge vrywillig gegee; en nou het ek met blydskap gesien hoe u volk, hier aanwesig, vrywillig aan U gegee het.

18. Here, God van Abraham, Isak en Israel, ons vaders, bewaar dit vir ewig, so ’n gesindheid in die gedagtes van die hart van u volk, en rig hulle hart tot U;

19. en gee aan my seun Salomo ’n volkome hart om u gebooie, u getuienisse en u insettinge te hou, en om alles te doen en om die paleis te bou wat ek voorberei het.

20. Daarna het Dawid aan die hele vergadering gesê: Loof nou die Here julle God. Toe het die hele vergadering die Here, die God van hulle vaders, geloof; en hulle het gebuig en voor die Here en voor die koning neergeval.

21. En hulle het daardie volgende dag slagoffers aan die Here geoffer en brandoffers aan die Here gebring: duisend bulle, duisend ramme, duisend lammers, met die drankoffers daarvan, en slagoffers in menigte vir die hele Israel.

22. En hulle het dié dag geëet en gedrink voor die aangesig van die Here met groot blydskap, en Salomo, die seun van Dawid, vir die tweede maal koning gemaak en as vors gesalf vir die Here en Sadok as priester gesalf.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 29