Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 16:1-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. NADAT hulle die ark ingebring en dit neergesit het binne-in die tent wat Dawid daarvoor opgeslaan het, het hulle brandoffers en dankoffers gebring voor die aangesig van God.

2. Toe Dawid gereed was met die brandoffer en die dankoffers, het hy die volk in die Naam van die Here geseën.

3. En hy het aan elkeen van Israel, manne sowel as vroue, aan elkeen ’n broodjie en ’n stuk vleis en ’n rosynekoek uitgedeel.

4. En hy het uit die Leviete dienaars aangestel voor die ark van die Here, en dit om die Here, die God van Israel, te roem en te loof en te prys:

5. Asaf, die hoof, en Sagaría, die tweede in rang ná hom; Jeï-el en Semíramot en Jéhiël en Mattítja en Elíab en Benája en Obed-Edom en Jeï-el met harp- en siterinstrumente, terwyl Asaf met die simbale musiek gemaak het,

6. en Benája en Jahásiël, die priesters, gedurigdeur met trompette voor die verbondsark van God.

7. OP dieselfde dag, toe vir die eerste maal, het Dawid aan Asaf en sy broers opgedra om „loof die Here” te sing.

8. Loof die Here, roep sy Naam aan, maak onder die volke sy dade bekend!

9. Sing, psalmsing tot sy eer, spreek van al sy wonders.

10. Beroem julle in sy heilige Naam; laat die hart van die wat die Here soek, bly wees.

11. Vra na die Here en sy sterkte; soek sy aangesig altyddeur.

12. Dink aan sy wonders wat Hy gedoen het, aan sy wondertekens en die oordele van sy mond,

13. o nageslag van Israel, sy kneg, o kinders van Jakob, sy uitverkorenes!

14. Hy, die Here is onse God; oor die ganse aarde is sy oordele.

15. Dink vir ewig aan sy verbond, aan die woord wat Hy ingestel het vir duisend geslagte —

16. die verbond wat Hy met Abraham gesluit het, en sy eed aan Isak;

17. wat Hy ook vir Jakob as insetting bekragtig het, vir Israel as ’n ewige verbond,

18. met die woorde: Ek sal aan jou die land Kanaän gee, julle afgemete erfdeel.

19. Toe julle min mense was, min en vreemdelinge daarin,

20. en hulle getrek het van nasie tot nasie, en van die een koninkryk na die ander volk,

21. het Hy niemand toegelaat om hulle te verdruk nie; ook het Hy konings om hulle ontwil gestraf en gesê:

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 16