Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 7:34-50 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

34. En vier skouerstukke was aan die vier hoeke van elke afspoelwaentjie; die skouerstukke daarvan was met die bak saam uit een stuk.

35. En bo-aan die afspoelwaentjie was daar ’n kraag van ’n half-el hoog, heeltemal rond; en bo-op die bak was die kloue en sluitplate daarvan, daarmee saam uit een stuk.

36. En hy het op die vlakke van die kloue en sluitplate daarvan gérubs, leeus en palmbome gegraveer volgens die ruimte van elkeen, en blomkranse rondom.

37. So het hy die tien afspoelwaentjies gemaak: een en dieselfde gietwerk, een maat, een vorm het hulle almal gehad.

38. Verder het hy tien koperwaskomme gemaak; elke kom het veertig bat gehou; elke kom was vier el; een kom was op elke bak van die tien afspoelwaentjies.

39. Toe het hy die afspoelwaentjies opgestel: vyf aan die suidekant van die huis en vyf aan die noordekant van die huis; maar die see het hy aan die suidekant van die huis opgestel, teen die ooste na die suide toe.

40. Verder het Hiram die potte en die skoppe en die komme gemaak. So het Hiram dan al die werk voleindig wat hy vir koning Salomo in die huis van die Here gedoen het:

41. twee pilare met die twee bolle van die kapitele wat op die top van die pilare was, en die twee stukke vlegwerk om die twee bolle van die kapitele op die top van die pilare te oordek;

42. en die vierhonderd granaatjies vir die twee stukke vlegwerk: twee rye granaatjies vir elke vlegwerk, om die twee bolle van die kapitele bo-op die pilare te oordek;

43. en die tien afspoelwaentjies en die tien waskomme op die afspoelwaentjies;

44. en die een see en die twaalf beeste onder die see;

45. en die potte en die skoppe en die komme: al hierdie voorwerpe wat Hiram vir koning Salomo in die huis van die Here gemaak het, was van gepolyste koper.

46. In die Jordaanstreek waar die grond diep was, tussen Sukkot en Sartan, het die koning dit gegiet.

47. En Salomo het al die voorwerpe ongeweeg laat bly vanweë die baie groot menigte; die gewig van die koper is nie bereken nie.

48. Verder het Salomo al die voorwerpe wat in die huis van die Here was, gemaak: die goue altaar en die tafel waar die toonbrode op moes lê, van goud;

49. en die kandelaars, vyf regs en vyf links, voor die binneste vertrek, van fyn goud; en die blomwerk en die lampe en die snuiters, van goud;

50. en die skottels en die messe en die komme en die rookpanne en die vuurpanne, van fyn goud; en die skarniere vir die deure van die binneste vertrek, van die Allerheiligste, en vir die deure van die saal, van die hoofvertrek, van goud.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 7