Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 18:40-46 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

40. Maar Elía sê vir hulle: Gryp die profete van Baäl! Laat niemand van hulle vryraak nie! En hulle het hul gegryp; en Elía het hulle afgebring na die spruit Kison en hulle daar geslag.

41. Toe sê Elía vir Agab: Trek op, eet en drink, want hoor, die gedruis van die reën!

42. En Agab het opgetrek om te eet en te drink; maar Elía het op die top van die Karmel geklim en hom op die grond neergebuig en sy aangesig tussen sy knieë gesteek.

43. Daarop sê hy vir sy dienaar: Klim tog op, kyk uit na die see. En hy het opgeklim en uitgekyk en geroep: Daar is niks nie. Toe sê hy: Gaan weer — sewe maal.

44. En die sewende maal roep hy: Daar gaan ’n wolkie soos ’n man se hand op uit die see. Toe sê hy: Gaan op, sê vir Agab: Span in en trek af, dat die reën jou nie terughou nie.

45. En in ’n oogwink was die hemel swart van wolke en wind, en ’n groot reën het gekom; en Agab het op die wa geklim en weggetrek na Jísreël;

46. maar die hand van die Here was oor Elía, sodat hy sy heupe omgord en voor Agab uit geloop het in die rigting na Jísreël.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 18