Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 18:15-24 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

15. Maar Elía sê: So waar as die Here van die leërskare leef, voor wie se aangesig ek staan, ek sal my verseker vandag aan hom vertoon!

16. En Obádja het Agab tegemoetgegaan en hom dit meegedeel; en Agab het Elía tegemoetgegaan.

17. En net toe Agab Elía sien, vra Agab vir hom: Is dit jy, jou beroerder van Israel?

18. Toe sê hy: Ek het Israel nie in beroering gebring nie, maar u en u familie, deurdat u die gebooie van die Here verlaat het en agter die Baäls aan geloop het.

19. Stuur dan nou, laat die hele Israel by my bymekaarkom op die berg Karmel, ook die vierhonderd-en-vyftig profete van Baäl en die vierhonderd profete van Asjéra wat aan die tafel van Isébel eet.

20. En Agab het gestuur onder al die kinders van Israel en die profete op die berg Karmel bymekaar laat kom.

21. En Elía het nader gekom na die hele volk en gesê: Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na! Maar die volk het hom niks geantwoord nie.

22. Toe sê Elía vir die volk: Ek het alleen oorgebly as profeet van die Here, terwyl die profete van Baäl vierhonderd-en-vyftig is.

23. Maar laat hulle vir ons twee bulle gee; dan kan hulle vir hul een bul uitkies en dit in stukke verdeel en op die hout sit, maar sonder om vuur te maak; en ék sal die ander bul gereedmaak en op die hout sit, maar ek sal geen vuur maak nie.

24. Roep julle dan die naam van julle god aan, en ék sal die Naam van die Here aanroep; en die God wat met vuur antwoord, Hy sal God wees. En die hele volk het geantwoord en gesê: Die woord is goed.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 18