Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 18:12-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

12. As ek nou van u af weggaan en die Gees van die Here u wegneem — ek weet nie waarheen nie — en ek kom om Agab berig te bring en hy vind u nie, dan sal hy my doodmaak; en u dienaar vrees die Here van sy jeug af.

13. Is dit nie aan my heer meegedeel wat ek gedoen het toe Isébel die profete van die Here gedood het nie: dat ek van die profete van die Here honderd man, vyftig by vyftig, in ’n spelonk weggesteek en hulle met brood en water onderhou het?

14. En nou beveel u: Gaan sê aan jou heer: Elía is daar! dat hy my kan doodmaak!

15. Maar Elía sê: So waar as die Here van die leërskare leef, voor wie se aangesig ek staan, ek sal my verseker vandag aan hom vertoon!

16. En Obádja het Agab tegemoetgegaan en hom dit meegedeel; en Agab het Elía tegemoetgegaan.

17. En net toe Agab Elía sien, vra Agab vir hom: Is dit jy, jou beroerder van Israel?

18. Toe sê hy: Ek het Israel nie in beroering gebring nie, maar u en u familie, deurdat u die gebooie van die Here verlaat het en agter die Baäls aan geloop het.

19. Stuur dan nou, laat die hele Israel by my bymekaarkom op die berg Karmel, ook die vierhonderd-en-vyftig profete van Baäl en die vierhonderd profete van Asjéra wat aan die tafel van Isébel eet.

20. En Agab het gestuur onder al die kinders van Israel en die profete op die berg Karmel bymekaar laat kom.

21. En Elía het nader gekom na die hele volk en gesê: Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na! Maar die volk het hom niks geantwoord nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 18