Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 18:1-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN geruime tyd daarna het die woord van die Here in die derde jaar tot Elía gekom en gesê: Gaan heen, vertoon jou aan Agab, dan wil Ek reën gee op die aarde.

2. En Elía het gegaan om hom aan Agab te vertoon. En die hongersnood was swaar in Samaría.

3. Toe laat Agab Obádja, wat oor die paleis was, roep. En Obádja het die Here baie gevrees.

4. Want toe Isébel die profete van die Here uitgeroei het, het Obádja honderd profete geneem en hulle vyftig by vyftig man in ’n spelonk weggesteek en hulle met brood en water onderhou.

5. En Agab het vir Obádja gesê: Trek deur die land na al die waterfonteine en na al die spruite; miskien sal ons gras kry, sodat ons die perde en muile in die lewe kan hou en van die vee nie hoef uit te roei nie.

6. En hulle het die land onder mekaar verdeel om dit deur te trek: Agab het afsonderlik met een pad getrek, en Obádja het afsonderlik met ’n ander pad getrek.

7. Terwyl Obádja op pad was, kom Elía hom meteens tegemoet; en toe hy hom herken, val hy op sy aangesig en vra: Is dit u, my heer Elía?

8. En hy sê: Dit is ek; gaan sê aan jou heer: Elía is daar.

9. Maar hy vra: Wat het ek gesondig, dat u u dienaar oorgee in die hand van Agab om my om die lewe te bring?

10. So waar as die Here u God leef, daar is geen nasie of koninkryk waar my heer nie heen gestuur het om u te soek nie; en as hulle sê: Hy is nie hier nie — dan laat hy die koninkryk en die nasie sweer dat hulle u nie kon vind nie.

11. En nou beveel u: Gaan sê aan jou heer: Elía is daar!

12. As ek nou van u af weggaan en die Gees van die Here u wegneem — ek weet nie waarheen nie — en ek kom om Agab berig te bring en hy vind u nie, dan sal hy my doodmaak; en u dienaar vrees die Here van sy jeug af.

13. Is dit nie aan my heer meegedeel wat ek gedoen het toe Isébel die profete van die Here gedood het nie: dat ek van die profete van die Here honderd man, vyftig by vyftig, in ’n spelonk weggesteek en hulle met brood en water onderhou het?

14. En nou beveel u: Gaan sê aan jou heer: Elía is daar! dat hy my kan doodmaak!

15. Maar Elía sê: So waar as die Here van die leërskare leef, voor wie se aangesig ek staan, ek sal my verseker vandag aan hom vertoon!

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 18