Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 14:4-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. En die vrou van Jeróbeam het so gedoen — haar gereedgemaak en na Silo gegaan en in die huis van Ahía gekom; en Ahía kon nie sien nie, want sy oë was styf vanweë sy ouderdom.

5. Maar die Here het vir Ahía gesê: Kyk, die vrou van Jeróbeam kom om jou te raadpleeg oor haar seun, want hy is siek; so en so moet jy vir haar sê. En toe sy inkom, terwyl sy haar as ’n vreemde aanstel,

6. en Ahía die geluid van haar voete hoor toe sy by die deur inkom, sê hy: Kom in, vrou van Jeróbeam! Waarom stel jy jou so vreemd aan? Aan my is ’n harde boodskap aan jou toevertrou.

7. Gaan sê vir Jeróbeam: So spreek die Here, die God van Israel: Omdat Ek jou onder die volk uit verhef het en jou as ’n vors oor my volk Israel aangestel het

8. en die koningskap van die huis van Dawid afgeskeur en dit aan jou gegee het, maar jy nie soos my kneg Dawid was wat my gebooie gehou en My met sy hele hart nagevolg het om net te doen wat reg is in my oë nie,

9. maar jy meer kwaad gedoen het as al jou voorgangers en vir jou ander gode en gegote beelde gaan maak het om My te terg en My agter jou rug gewerp het —

10. kyk, daarom bring Ek onheil oor die huis van Jeróbeam en sal van Jeróbeam uitroei al wat manlik is in Israel, sonder uitsondering; en Ek sal die huis van Jeróbeam skoon wegvee soos ’n mens drek wegvee totdat daar niks van oor is nie.

11. Die een wat van Jeróbeam in die stad sterwe, hom sal die honde eet; en wat in die veld sterwe, sal die voëls van die hemel eet, want die Here het dit gespreek.

12. Maak jou dan klaar, gaan na jou huis; as jou voete die stad inkom, sal die kind sterwe.

13. En die hele Israel sal hom beklaag en hom begrawe, want hy alleen van Jeróbeam sal in ’n graf kom, omdat in hom iets goeds voor die Here, die God van Israel, te vinde was in die huis van Jeróbeam.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 14