Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 12:1-11 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN Rehábeam het na Sigem gegaan, want die hele Israel het na Sigem gekom om hom koning te maak.

2. En net toe Jeróbeam, die seun van Nebat, dit hoor — hy was nog in Egipte, waarheen hy vir koning Salomo weggevlug het, en Jeróbeam was in Egipte woonagtig,

3. en hulle het hom laat roep — kom Jeróbeam en die hele vergadering van Israel, en hulle het Rehábeam toegespreek en gesê:

4. U vader het ons juk hard gemaak, maak u dan nou die harde diens van u vader en sy swaar juk wat hy ons opgelê het, ligter; dan sal ons u dien.

5. En hy sê vir hulle: Gaan weg tot oor drie dae, kom dan terug na my toe. En die volk het gegaan.

6. Daarop hou koning Rehábeam raad met die oudstes wat voor sy vader Salomo gedurende sy lewe gestaan het, en hy vra: Wat raai u aan om hierdie volk te antwoord?

7. En hulle spreek met hom en sê: As u vandag ’n dienaar van hierdie volk word en hulle dien en hulle antwoord en met vriendelike woorde hulle toespreek, sal hulle altyd u dienaars wees.

8. Maar hy het die raad van die oudstes wat hulle hom gegee het, in die wind geslaan en raad gehou met die jongmanne wat saam met hom grootgeword en voor hom gestaan het.

9. En hy vra hulle: Wat raai julle aan dat ons hierdie volk sal antwoord wat my toegespreek en gesê het: Maak die juk wat u vader ons opgelê het, ligter?

10. En die jongmanne wat saam met hom grootgeword het, antwoord hom en sê: Só moet u hierdie volk antwoord wat met u gespreek en gesê het: U vader het ons juk swaar gemaak, maar maak u dit ligter oor ons — só moet u hulle antwoord: My pinkie is dikker as my vader se lendene.

11. Het my vader dan nou ’n swaar juk op julle gelaai — ék sal by julle juk nog byvoeg; het my vader julle met die sweep getugtig — ék sal julle met gésels tugtig.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 12