Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 8:27-39 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

27. En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree.

28. En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.

29. Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders;

30. en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.

31. WAT sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees?

32. Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?

33. Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak.

34. Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.

35. Wie sal ons skei van die liefde van Christus — verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard?

36. Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape.

37. Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.

38. Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge

39. of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.

Lees volledige hoofstuk Romeine 8