Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 16:13-27 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. Groet Rufus, die uitverkorene in die Here, en sy moeder en myne.

14. Groet Asínkritus, Flegon, Hermas, Pátrobas, Hermes en die broeders wat saam met hulle is.

15. Groet Filólogus en Julia, Néreus en sy suster en Olímpas en al die heiliges wat saam met hulle is.

16. Groet mekaar met ’n heilige kus. Die gemeentes van Christus groet julle.

17. En ek vermaan julle, broeders, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, en vermy hulle.

18. Want sulke mense dien nie onse Here Jesus nie, maar hulle eie buik; en hulle verlei deur hul vriendelike en mooi woorde die harte van die eenvoudiges.

19. Want julle gehoorsaamheid het algemeen bekend geword. Daarom verbly ek my oor julle, en ek wens dat julle wys mag wees teenoor wat goed is, maar onskuldig teenoor wat sleg is.

20. En die God van vrede sal die Satan spoedig onder julle voete verbrysel. Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle! Amen.

21. Timótheüs, my medewerker, groet julle, en Lúcius en Jason en Sosípater, my stamgenote.

22. Ek, Tértius, wat die brief geskryf het, groet julle in die Here.

23. Gajus, my gasheer en ook van die hele gemeente, groet julle. Erástus, die penningmeester van die stad, en die broeder Quartus groet julle.

24. Die genade van die Here Jesus Christus sy met julle almal! Amen.

25. Aan Hom dan wat magtig is om julle te versterk volgens my evangelie en die prediking van Jesus Christus, ooreenkomstig die openbaring van die verborgenheid wat eeue lank verswyg is,

26. maar nou geopenbaar is en deur die profetiese Skrifte bekend gemaak is onder al die heidene, volgens die bevel van die ewige God, tot gehoorsaamheid van die geloof —

27. aan die alleenwyse God, aan Hom die heerlikheid deur Jesus Christus tot in ewigheid! Amen.

Lees volledige hoofstuk Romeine 16