Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 11:21-36 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

21. Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, sal Hy miskien jou ook nie spaar nie.

22. Let dan op die goedertierenheid en die gestrengheid van God: gestrengheid oor die wat geval het, maar goedertierenheid oor jou as jy in die goedertierenheid bly; anders sal jy ook afgekap word.

23. Maar ook hulle sal, as hulle nie in die ongeloof bly nie, ingeënt word; want God is magtig om hulle weer in te ent.

24. Want as jy afgekap is van die olyfboom wat van nature wild was, en teen die natuur op die mak olyfboom ingeënt kan word, hoeveel te meer kan hulle dan wat dit van nature is, op hul eie olyfboom ingeënt word?

25. Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het;

26. en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend;

27. en dit is van my kant die verbond met hulle as Ek hulle sondes wegneem.

28. Wat die evangelie betref, is hulle wel vyande ter wille van julle; maar wat die uitverkiesing betref, bemindes ter wille van die vaders.

29. Want die genadegawes en die roeping van God is onberoulik.

30. Want soos julle ook vroeër aan God ongehoorsaam was, maar nou barmhartigheid ontvang het deur hulle ongehoorsaamheid,

31. so het hulle ook nou ongehoorsaam geword deur die barmhartigheid aan julle, sodat hulle ook barmhartigheid kan ontvang.

32. Want God het hulle almal in die ongehoorsaamheid ingesluit om vir almal barmhartig te kan wees.

33. o, DIEPTE van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë!

34. Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees?

35. Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word?

36. Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Lees volledige hoofstuk Romeine 11