Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 11:11-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. Ek vra dan: Het hulle miskien gestruikel om te val? Nee, stellig nie! Maar deur hulle val het die saligheid tot die heidene gekom om hulle jaloers te maak.

12. En as hulle val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie!

13. Want aan julle heidene sê ek: Vir sover as ek ’n apostel van die heidene is, verheerlik ek my bediening —

14. as ek tog maar net my eie volk jaloers kan maak en sommige uit hulle kan red!

15. Want as hulle verwerping die versoening van die wêreld is, wat sal hulle aanneming anders wees as lewe uit die dode?

16. En as die eerstelinge heilig is, dan die deeg ook; en as die wortel heilig is, dan die takke ook.

17. En as sommige van die takke afgebreek is, en jy wat ’n wilde olyfboom was, onder hulle ingeënt is en deel gekry het aan die wortel en die vettigheid van die olyfboom,

18. moet dan nie teen die takke roem nie; en as jy roem — dit is nie jy wat die wortel dra nie, maar die wortel vir jou.

19. Jy sal dan sê: Die takke is afgebreek, sodat ek ingeënt kon word.

20. Goed! Deur ongeloof is hulle afgebreek, maar jy staan deur die geloof. Moenie hoogmoedig wees nie, maar vrees.

21. Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, sal Hy miskien jou ook nie spaar nie.

22. Let dan op die goedertierenheid en die gestrengheid van God: gestrengheid oor die wat geval het, maar goedertierenheid oor jou as jy in die goedertierenheid bly; anders sal jy ook afgekap word.

23. Maar ook hulle sal, as hulle nie in die ongeloof bly nie, ingeënt word; want God is magtig om hulle weer in te ent.

Lees volledige hoofstuk Romeine 11