Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 1:8-27 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. IN die eerste plek dank ek my God deur Jesus Christus oor julle almal dat julle geloof verkondig word in die hele wêreld.

9. Want God wat ek in my gees dien in die evangelie van sy Seun, is my getuie hoe ek onophoudelik aan julle dink

10. en altyd in my gebede smeek of ek tog nou eindelik ’n goeie geleentheid sal vind deur die wil van God om na julle te kom;

11. want ek verlang om julle te sien, om julle een of ander geestelike genadegawe mee te deel, sodat julle versterk kan word;

12. dit is, dat ek saam bemoedig kan word onder julle deur die gemeenskaplike geloof, van julle sowel as van my.

13. Maar, broeders, ek wil julle nie daarvan onkundig laat dat ek my dikwels voorgeneem het om na julle te kom nie — en ek is tot nog toe verhinder — sodat ek ook onder julle een of ander vrug kan insamel net soos onder die ander heidene.

14. Teenoor Grieke sowel as nie-Grieke, teenoor wyse sowel as onverstandige mense is ek ’n skuldenaar.

15. Vandaar die verlange van my kant om ook aan julle wat in Rome is, die evangelie te verkondig.

16. WANT ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ’n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek.

17. Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.

18. WANT die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk,

19. omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar.

20. Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;

21. omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister.

22. Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword

23. en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van ’n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere.

24. Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer —

25. hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen.

26. Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is;

27. en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang.

Lees volledige hoofstuk Romeine 1