Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 5:7-14 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. Hy het gekom en die boek geneem uit die regterhand van Hom wat op die troon sit;

8. en toe Hy die boek neem, val die vier lewende wesens en die vier-en-twintig ouderlinge voor die Lam neer, elkeen met siters en goue skale vol reukwerk, wat die gebede van die heiliges is.

9. Toe sing hulle ’n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie,

10. en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.

11. Toe sien ek, en ek hoor ’n stem van baie engele rondom die troon en van die lewende wesens en die ouderlinge; en hulle getal was tienduisende van tienduisende en duisende van duisende;

12. en met ’n groot stem het hulle gesê: Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof.

13. En elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en wat op die see is, en alles wat in hulle is, het ek hoor sê: Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!

14. En die vier lewende wesens het gesê: Amen! En die vier-en-twintig ouderlinge het neergeval en Hom aanbid wat lewe tot in alle ewigheid.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 5