Ou Testament

Nuwe Testament

Matthéüs 9:25-37 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

25. En nadat die skare uitgedryf was, het Hy ingegaan en haar hand gegryp; en die dogtertjie het opgestaan.

26. En die gerug hiervan het deur daardie hele land versprei.

27. EN toe Jesus daarvandaan verder gaan, het twee blindes Hom gevolg, terwyl hulle uitroep en sê: Wees ons barmhartig, Seun van Dawid!

28. En nadat Hy in die huis gegaan het, kom die blindes na Hom toe. En Jesus sê vir hulle: Glo julle dat Ek dit kan doen? Hulle antwoord Hom: Ja, Here.

29. Toe raak Hy hulle oë aan en sê: Laat dit vir julle wees volgens julle geloof.

30. En hulle oë het oopgegaan. En Jesus het hulle skerp aangespreek en gesê: Pas op, laat niemand dit te wete kom nie.

31. Maar hulle het heengegaan en Hom in daardie hele land bekend gemaak.

32. En terwyl hulle weggaan, bring die mense ’n stom man wat van die duiwel besete was, na Hom toe.

33. En nadat die duiwel uitgedryf was, het die stomme gepraat. En die skare het hulle verwonder en gesê: So iets is nog nooit in Israel gesien nie!

34. Maar die Fariseërs het gesê: Deur die owerste van die duiwels dryf Hy die duiwels uit.

35. EN Jesus het by al die stede en dorpe rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig en elke siekte en elke kwaal onder die volk genees.

36. En toe Hy die skare sien, het Hy innig jammer gevoel vir hulle, omdat hulle moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie.

37. Toe sê Hy vir sy dissipels: Die oes is wel groot, maar die arbeiders min.

Lees volledige hoofstuk Matthéüs 9