Ou Testament

Nuwe Testament

Matthéüs 5:26-43 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

26. Voorwaar Ek sê vir jou, jy sal daar sekerlik nie uitkom voordat jy die laaste oortjie betaal het nie.

27. Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreek nie.

28. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ’n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.

29. As jou regteroog jou dan laat struikel, ruk dit uit en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie.

30. En as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie.

31. Daar is ook gesê: Elkeen wat van sy vrou skei, moet haar ’n skeibrief gee.

32. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat van sy vrou skei, behalwe omrede van hoerery, maak dat sy egbreuk pleeg, en elkeen wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreuk.

33. Verder het julle gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie vals sweer nie, maar jy moet jou ede aan die Here hou.

34. Maar Ek sê vir julle: Sweer hoegenaamd nie — nie by die hemel nie, omdat dit die troon van God is;

35. ook nie by die aarde nie, omdat dit die voetbank van sy voete is; ook nie by Jerusalem nie, omdat dit die stad is van die groot Koning;

36. ook by jou hoof mag jy nie sweer nie, omdat jy nie een haar wit of swart kan maak nie.

37. Maar laat julle woord wees: Ja ja, nee nee. Wat meer as dit is, is uit die Bose.

38. Julle het gehoor dat daar gesê is: Oog vir oog en tand vir tand.

39. Maar Ek sê vir julle dat julle ’n slegte mens nie moet weerstaan nie; maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe.

40. En hy wat met jou na die gereg wil gaan en jou onderkleed wil neem, laat hom ook die bo-kleed kry.

41. En elkeen wat van jou een myl afdwing, loop met hom twee myl saam.

42. Gee aan hom wat jou iets vra, en wys hom nie af wat van jou wil leen nie.

43. Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat.

Lees volledige hoofstuk Matthéüs 5