Ou Testament

Nuwe Testament

Matthéüs 4:15-25 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

15. Die land Sébulon en die land Náftali, na die see toe, oorkant die Jordaan, Galiléa van die heidene —

16. die volk wat in duisternis sit, het ’n groot lig gesien, en die wat sit in die land en skaduwee van die dood, vir hulle het ’n lig opgegaan.

17. Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.

18. En terwyl Jesus langs die see van Galiléa loop, sien Hy twee broers, Simon wat genoem word Petrus, en Andréas, sy broer, besig om ’n net in die see uit te gooi; want hulle was vissers.

19. En Hy sê vir hulle: Kom agter My aan, en Ek sal julle vissers van mense maak.

20. En hulle het dadelik die nette laat staan en Hom gevolg.

21. En toe Hy daarvandaan verder gaan, sien Hy twee ander broers, Jakobus, die seun van Sebedéüs, en Johannes, sy broer, in die skuit saam met hulle vader Sebedéüs, besig om hulle nette heel te maak; en Hy het hulle geroep.

22. En hulle het dadelik die skuit en hulle vader verlaat en Hom gevolg.

23. En Jesus het deur die hele Galiléa rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig en elke siekte en elke kwaal onder die volk genees.

24. En die gerug aangaande Hom is versprei oor die hele Sírië; en hulle het na Hom gebring almal wat ongesteld was, wat gekwel was deur allerhande siektes en pyne en wat van duiwels besete was, en maansiekes en verlamdes; en Hy het hulle gesond gemaak.

25. En groot menigtes het Hom gevolg van Galiléa en Dekápolis en Jerusalem en Judéa en van oorkant die Jordaan af.

Lees volledige hoofstuk Matthéüs 4