Ou Testament

Nuwe Testament

Matthéüs 27:1-16 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN toe dit dag geword het, het al die owerpriesters en die ouderlinge van die volk saam raad gehou teen Jesus om Hom dood te maak.

2. En hulle het Hom geboei en weggelei en Hom oorgelewer aan Pontius Pilatus, die goewerneur.

3. Daarna het Judas, sy verraaier, toe hy sien dat Hy veroordeel was, berou gekry en die dertig silwerstukke teruggebring na die owerpriesters en die ouderlinge

4. en gesê: Ek het gesondig deur onskuldige bloed te verraai. Maar hulle sê: Wat gaan dit ons aan? Jy kan toesien!

5. En hy het die silwerstukke in die tempel neergegooi en weggeloop en homself gaan ophang.

6. En die owerpriesters het die silwerstukke geneem en gesê: Dit is nie geoorloof om dit in die skatkis te stort nie, omdat dit bloedgeld is.

7. En nadat hulle saam raad gehou het, het hulle die stuk grond van die pottebakker daarmee gekoop as ’n begraafplaas vir vreemdelinge.

8. Daarom is dié stuk grond genoem Bloedgrond, tot vandag toe.

9. Toe is vervul wat gespreek is deur Jeremia, die profeet, toe hy gesê het: En hulle het die dertig silwerstukke geneem, die prys van die gewaardeerde wat hulle gewaardeer het vanweë die kinders van Israel;

10. en hulle het dit gegee vir die grond van die pottebakker, soos die Here my beveel het.

11. EN Jesus het voor die goewerneur gestaan, en die goewerneur het Hom die vraag gestel en gesê: Is U die Koning van die Jode? En Jesus antwoord hom: U sê dit.

12. En terwyl Hy deur die owerpriesters en die ouderlinge beskuldig word, het Hy niks geantwoord nie.

13. Toe sê Pilatus vir Hom: Hoor U nie hoe baie dinge hulle teen U getuig nie?

14. En Hy het hom op geen enkele woord geantwoord nie, sodat die goewerneur hom baie verwonder het.

15. En op die fees was die goewerneur gewoond om een gevangene, die een wat hulle wou hê, vir die skare los te laat.

16. En in daardie tyd het hulle ’n berugte gevangene gehad met die naam van Barábbas.

Lees volledige hoofstuk Matthéüs 27