Ou Testament

Nuwe Testament

Matthéüs 26:45-56 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

45. Daarop kom Hy by sy dissipels en sê vir hulle: Slaap maar voort en rus. Kyk, die uur is naby, en die Seun van die mens word oorgelewer in die hande van sondaars.

46. Staan op, laat ons gaan; kyk, hy is naby wat My verraai.

47. EN terwyl Hy nog spreek, daar kom Judas, een van die twaalf, en saam met hom ’n groot menigte met swaarde en stokke, gestuur deur die owerpriesters en ouderlinge van die volk.

48. En sy verraaier het vir hulle ’n teken gegee en gesê: Die een wat ek sal soen, dit is Hy, gryp Hom!

49. En dadelik gaan hy na Jesus en sê: Gegroet, Rabbi! en hy het Hom gesoen.

50. Maar Jesus sê vir hom: Vriend, waarvoor is jy hier? Toe kom hulle nader en slaan die hande aan Jesus en gryp Hom.

51. En een van die wat saam met Jesus was, het meteens sy hand uitgesteek en sy swaard getrek; en hy het die dienskneg van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap.

52. Toe sê Jesus vir hom: Sit jou swaard in sy plek terug; want almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan.

53. Of dink jy dat Ek nie nou my Vader kan bid en Hy vir My meer as twaalf legioene van engele beskikbaar sal stel nie?

54. Hoe sou die Skrifte dan vervul word dat dit so moet gebeur?

55. In daardie uur het Jesus vir die skare gesê: Het julle soos teen ’n rower uitgekom met swaarde en stokke om My gevange te neem? Dag vir dag het Ek by julle gesit en leer in die tempel, en julle het My nie gegryp nie.

56. Maar dit het alles gebeur, dat die Skrifte van die profete vervul sou word. Toe het al die dissipels Hom verlaat en gevlug.

Lees volledige hoofstuk Matthéüs 26