Ou Testament

Nuwe Testament

Matthéüs 26:32-44 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

32. Maar nadat Ek opgestaan het, sal Ek voor julle uit na Galiléa gaan.

33. Daarop antwoord Petrus en sê vir Hom: Al sal almal ook aanstoot aan U neem, ek sal nooit aanstoot neem nie.

34. Jesus sê vir hom: Voorwaar Ek sê vir jou, in hierdie nag, voordat die haan gekraai het, sal jy My drie maal verloën.

35. Petrus sê vir Hom: Al moes ek ook saam met U sterwe, ek sal U nooit verloën nie! So het ook al die dissipels gesê.

36. TOE kom Jesus met hulle in ’n plek met die naam van Getsémané, en Hy sê vir die dissipels: Sit hier onderwyl Ek daar gaan bid.

37. En Hy neem Petrus en die twee seuns van Sebedéüs saam en begin bedroef en benoud word.

38. Toe sê Hy vir hulle: My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak saam met My.

39. En Hy het ’n bietjie verder gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.

40. En Hy kom by die dissipels en vind hulle aan die slaap, en Hy sê vir Petrus: So was julle dan nie in staat om een uur saam met My te waak nie?

41. Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.

42. Weer het Hy vir die tweede maal gaan bid en gesê: My Vader, as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied.

43. Toe kom Hy en vind hulle weer aan die slaap, want hulle oë was swaar.

44. En Hy het hulle met rus gelaat en weer vir die derde maal gaan bid en dieselfde woorde gesê.

Lees volledige hoofstuk Matthéüs 26