Ou Testament

Nuwe Testament

Matthéüs 26:28-41 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

28. Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.

29. Maar Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nooit meer van hierdie vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader.

30. En nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan na die Olyfberg.

31. TOE sê Jesus vir hulle: Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My, want daar is geskrywe: Ek sal die herder slaan, en die skape van die kudde sal verstrooi word.

32. Maar nadat Ek opgestaan het, sal Ek voor julle uit na Galiléa gaan.

33. Daarop antwoord Petrus en sê vir Hom: Al sal almal ook aanstoot aan U neem, ek sal nooit aanstoot neem nie.

34. Jesus sê vir hom: Voorwaar Ek sê vir jou, in hierdie nag, voordat die haan gekraai het, sal jy My drie maal verloën.

35. Petrus sê vir Hom: Al moes ek ook saam met U sterwe, ek sal U nooit verloën nie! So het ook al die dissipels gesê.

36. TOE kom Jesus met hulle in ’n plek met die naam van Getsémané, en Hy sê vir die dissipels: Sit hier onderwyl Ek daar gaan bid.

37. En Hy neem Petrus en die twee seuns van Sebedéüs saam en begin bedroef en benoud word.

38. Toe sê Hy vir hulle: My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak saam met My.

39. En Hy het ’n bietjie verder gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.

40. En Hy kom by die dissipels en vind hulle aan die slaap, en Hy sê vir Petrus: So was julle dan nie in staat om een uur saam met My te waak nie?

41. Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.

Lees volledige hoofstuk Matthéüs 26