Ou Testament

Nuwe Testament

Matthéüs 25:2-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. En vyf van hulle was verstandig en vyf dwaas.

3. En toe die wat dwaas was, hul lampe neem, het hulle geen olie met hulle saamgeneem nie.

4. Maar die verstandiges het olie in hulle kanne saam met hul lampe geneem.

5. En terwyl die bruidegom talm om te kom, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak.

6. En middernag was daar ’n geroep: Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet!

7. Toe staan al daardie maagde op en maak hulle lampe gereed.

8. En die wat dwaas was, sê aan die verstandiges: Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan uit.

9. Maar die verstandiges antwoord en sê: Miskien sal daar nie genoeg wees vir ons en vir julle nie. Maar gaan liewer na die verkopers en koop vir julleself.

10. En onderwyl hulle gaan om te koop, het die bruidegom gekom. En die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit.

11. Later kom toe die ander maagde ook en sê: Meneer, Meneer, maak vir ons oop!

12. Maar hy antwoord en sê: Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie.

13. Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie.

14. WANT dit is soos ’n man wat op reis wou gaan en sy diensknegte roep en aan hulle sy besittings toevertrou.

15. En aan die een gee hy vyf talente en aan die ander twee en aan die ander een, aan elkeen na sy vermoë; en hy het dadelik op reis gegaan.

16. En die een wat die vyf talente ontvang het, het daarmee gaan werk en vyf ander talente gewin.

17. Net so het die een wat die twee ontvang het, self ook twee ander verdien.

18. Maar hy wat die een ontvang het, het in die grond gaan grawe en die geld van sy heer weggesteek.

Lees volledige hoofstuk Matthéüs 25