Ou Testament

Nuwe Testament

Matthéüs 24:5-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei.

6. En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie.

7. Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke.

8. Maar al hierdie dinge is ’n begin van die smarte.

9. Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam.

10. En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat.

11. En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei.

12. En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.

13. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.

14. En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.

15. WANNEER julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom — laat hy wat lees, oplet —

16. dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug;

17. wie op die dak is, moet nie afkom om iets uit sy huis weg te neem nie;

18. en wie op die land is, moet nie omdraai om sy klere weg te neem nie.

Lees volledige hoofstuk Matthéüs 24