Ou Testament

Nuwe Testament

Matthéüs 24:24-40 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

24. Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.

25. Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê.

26. As hulle dan vir julle sê: Kyk, Hy is in die woestyn — moenie uitgaan nie; kyk, Hy is in die binnekamer — moet dit nie glo nie.

27. Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.

28. Want oral waar die dooie liggaam lê, daar sal die aasvoëls saamkom.

29. EN dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word.

30. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid.

31. En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.

32. En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is.

33. So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur.

34. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.

35. Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.

36. MAAR van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen.

37. En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.

38. Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het,

39. en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.

40. Dan sal daar twee op die land wees; die een word aangeneem en die ander word verlaat.

Lees volledige hoofstuk Matthéüs 24