Ou Testament

Nuwe Testament

Matthéüs 23:4-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. Want hulle bind pakke saam wat swaar en moeilik is om te dra, en sit dit op die skouers van die mense, maar self wil hulle dit nie met hulle vinger verroer nie.

5. En hulle doen al hul werke om deur die mense gesien te word, en hulle maak hul gedenkseëls breed en die some van hul klere groot.

6. En hulle hou van die voorste plekke by die maaltye en die voorste banke in die sinagoges

7. en die begroetinge op die markte en om deur die mense genoem te word: Rabbi, Rabbi!

8. Maar julle, laat jul nie Rabbi noem nie, want een is julle leermeester: Christus, en julle is almal broeders.

9. En julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, Hy wat in die hemele is.

10. Julle moet julle ook nie leermeesters laat noem nie, want een is julle leermeester: Christus.

11. Maar die grootste van julle moet jul dienaar wees.

12. Wie homself verhoog, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhoog word.

13. Maar wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle sluit die koninkryk van die hemele toe voor die mense; want julle gaan self nie in nie, en die wat sou ingaan, laat julle nie toe om in te gaan nie.

14. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle eet die huise van die weduwees op, en doen vir die skyn lang gebede. Daarom sal julle ’n swaarder oordeel ontvang.

15. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle trek rond oor see en land om een bekeerling te maak; en as hy dit geword het, maak julle hom ’n kind van die hel, twee maal erger as julle self.

16. Wee julle, blinde leiers, julle wat sê: Elkeen wat sweer by die tempel — dit is niks nie; maar elkeen wat sweer by die goud van die tempel, hy is gebonde.

17. Julle dwase en blindes, want wat is meer: die goud, of die tempel wat die goud heilig?

18. En: Elkeen wat sweer by die altaar — dit is niks nie; maar elkeen wat sweer by die gawe daar bo-op, hy is gebonde.

Lees volledige hoofstuk Matthéüs 23