Ou Testament

Nuwe Testament

Matthéüs 23:16-29 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

16. Wee julle, blinde leiers, julle wat sê: Elkeen wat sweer by die tempel — dit is niks nie; maar elkeen wat sweer by die goud van die tempel, hy is gebonde.

17. Julle dwase en blindes, want wat is meer: die goud, of die tempel wat die goud heilig?

18. En: Elkeen wat sweer by die altaar — dit is niks nie; maar elkeen wat sweer by die gawe daar bo-op, hy is gebonde.

19. Julle dwase en blindes, want wat is meer: die gawe, of die altaar wat die gawe heilig?

20. Wie dan sweer by die altaar, sweer dáárby en by alles wat daarop is;

21. en wie sweer by die tempel, sweer dáárby en by Hom wat daarin woon;

22. en wie sweer by die hemel, sweer by die troon van God en by Hom wat daarop sit.

23. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en die swaarste van die wet laat julle ná: die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat.

24. Blinde leiers, julle wat die muggie uitsif, maar die kameel insluk!

25. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roof en onmatigheid.

26. Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker en die skottel skoon, sodat ook die buitekant daarvan skoon kan word.

27. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is.

28. So lyk julle ook van buite vir die mense wel regverdig, maar van binne is julle vol geveinsdheid en ongeregtigheid.

29. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle bou die grafte van die profete en versier die grafstene van die regverdiges;

Lees volledige hoofstuk Matthéüs 23