Ou Testament

Nuwe Testament

Matthéüs 22:10-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. En daardie diensknegte het uitgegaan op die paaie en almal versamel wat hulle gevind het, slegtes sowel as goeies, en die bruilofsaal het vol gaste geword.

11. En toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar iemand wat nie ’n bruilofskleed aan het nie.

12. En hy sê vir hom: Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ’n bruilofskleed aan? En hy kon geen woord sê nie.

13. Toe sê die koning vir sy dienaars: Bind sy hande en voete, neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande.

14. Want baie is geroep, maar min uitverkies.

15. TOE gaan die Fariseërs saam raad hou hoe om Hom in sy woord te verstrik.

16. En hulle stuur hul dissipels saam met die Herodiane na Hom en sê: Meester, ons weet dat U waaragtig is en die weg van God in waarheid leer en U aan niemand steur nie, want U sien nie die persoon van mense aan nie —

17. sê dan vir ons, wat dink U: Is dit geoorloof om aan die keiser belasting te betaal of nie?

18. Maar Jesus het hulle boosheid bemerk en gesê:

19. Geveinsdes, waarom versoek julle My? Wys My die belastingmunt. En hulle het vir Hom ’n penning gebring.

20. En Hy sê vir hulle: Wie se beeld en opskrif is dit?

21. Hulle antwoord Hom: Die keiser s’n. Daarop sê Hy vir hulle: Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom.

Lees volledige hoofstuk Matthéüs 22