Ou Testament

Nuwe Testament

Matthéüs 21:4-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. En dit het alles gebeur, sodat vervul sou word die woord wat deur die profeet gespreek is:

5. Sê vir die dogter van Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe, sagmoedig, en Hy sit op ’n esel, ja, ’n jong esel, die vul van ’n pakdier.

6. En die dissipels het gegaan en gedoen soos Jesus hulle beveel het;

7. hulle het die esel en die vul gebring en hulle klere daarop gelê, en Hy het daarop gaan sit.

8. En die grootste deel van die skare het hulle klere op die pad oopgegooi, en ander het takke van die bome afgekap en op die pad gestrooi.

9. En die skare wat voor geloop en die wat gevolg het, het uitgeroep en gesê: Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Hosanna in die hoogste hemele!

10. En toe Hy in Jerusalem inkom, het die hele stad in opskudding geraak en gesê: Wie is hierdie man?

11. En die skare sê: Dit is Jesus, die profeet, van Násaret in Galiléa.

12. EN Jesus het in die tempel van God ingegaan en almal wat in die tempel verkoop en koop, uitgejaag en die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers omgegooi.

13. En Hy sê vir hulle: Daar is geskrywe: My huis moet ’n huis van gebed genoem word. Maar julle het dit ’n rowerspelonk gemaak.

14. En daar het blindes en kreupeles na Hom gekom in die tempel, en Hy het hulle gesond gemaak.

15. En toe die owerpriesters en skrifgeleerdes die wonderwerke sien wat Hy gedoen het, en die kinders wat in die tempel uitroep en sê: Hosanna vir die Seun van Dawid! was hulle verontwaardig

16. en sê vir Hom: Hoor U wat hulle daar sê? En Jesus antwoord hulle: Ja, het julle nooit gelees: Uit die mond van kinders en suigelinge het U vir U lof berei nie?

17. En Hy het hulle verlaat en uit die stad uitgegaan na Betánië en daar vernag.

Lees volledige hoofstuk Matthéüs 21