Ou Testament

Nuwe Testament

Matthéüs 21:32-40 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

32. Want Johannes het na julle gekom in die weg van geregtigheid, en julle het hom nie geglo nie; maar die tollenaars en die hoere het hom geglo. En julle het dit gesien en tog nie later berou gekry om hom te glo nie.

33. LUISTER na ’n ander gelykenis: Daar was ’n sekere huisheer wat ’n wingerd geplant het; en hy het ’n heining daarom gesit en ’n parskuip daarin gegrawe en ’n wagtoring gebou, en hy het dit aan landbouers verhuur en op reis gegaan.

34. En toe die vrugtetyd nader kom, stuur hy sy diensknegte na die landbouers om sy vrugte te ontvang.

35. Maar die landbouers het sy diensknegte geneem en een geslaan en ’n ander een doodgemaak en ’n ander een gestenig.

36. Weer het hy ander diensknegte gestuur, meer as die eerstes, en hulle het met dié net so gemaak.

37. Oplaas het hy sy seun na hulle gestuur en gesê: Hulle sal my seun ontsien.

38. Maar toe die landbouers die seun sien, het hulle onder mekaar gesê: Dit is die erfgenaam; kom laat ons hom doodmaak en sy erfdeel in besit neem.

39. En hulle het hom geneem en buitekant die wingerd uitgewerp en doodgemaak.

40. Wanneer die eienaar van die wingerd dan kom, wat sal hy met daardie landbouers doen?

Lees volledige hoofstuk Matthéüs 21