Ou Testament

Nuwe Testament

Matthéüs 21:19-33 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

19. en Hy sien ’n vyeboom langs die pad en gaan daarnatoe; maar Hy het niks daaraan gevind nie as net blare alleen; en Hy sê vir hom: Laat daar uit jou tot in ewigheid nooit weer ’n vrug kom nie! En onmiddellik het die vyeboom verdroog.

20. En toe die dissipels dit sien, was hulle verwonderd en sê: Hoe het die vyeboom so onmiddellik verdroog?

21. Maar Jesus antwoord en sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle nie alleen doen wat met die vyeboom gebeur het nie; maar al sê julle ook vir hierdie berg: Hef jou op en werp jou in die see — sal dit gebeur.

22. En alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo.

23. EN toe Hy in die tempel gegaan het, kom die owerpriesters en die ouderlinge van die volk na Hom terwyl Hy besig was om te leer, en hulle sê: Deur watter gesag doen U hierdie dinge, en wie het U hierdie gesag gegee?

24. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Ek sal julle ook een ding vra, en as julle dit vir My sê, sal Ek julle ook vertel deur watter gesag Ek hierdie dinge doen.

25. Die doop van Johannes, waar was dit vandaan, uit die hemel of uit mense? En hulle het by hulleself geredeneer en gesê: As ons sê: Uit die hemel — dan sal Hy ons vra: Waarom het julle hom dan nie geglo nie?

26. En as ons sê: Uit mense — dan moet ons oppas vir die menigte, want almal hou Johannes vir ’n profeet.

27. Toe antwoord hulle Jesus en sê: Ons weet nie. Hy sê toe ook vir hulle: Dan vertel Ek julle ook nie deur watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.

28. MAAR wat dink julle? ’n Man het twee kinders gehad, en hy gaan na die eerste en sê: Kind, gaan werk vandag in my wingerd.

29. En hy antwoord en sê: Ek wil nie; maar later het hy berou gekry en gegaan.

30. Toe het hy na die tweede gegaan en vir hom net so gesê; en hy antwoord en sê: Ja, heer. En hy het nie gegaan nie.

31. Wie van die twee het die wil van die vader gedoen? Hulle antwoord Hom: Die eerste. Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, die tollenaars en die hoere gaan julle voor in die koninkryk van God.

32. Want Johannes het na julle gekom in die weg van geregtigheid, en julle het hom nie geglo nie; maar die tollenaars en die hoere het hom geglo. En julle het dit gesien en tog nie later berou gekry om hom te glo nie.

33. LUISTER na ’n ander gelykenis: Daar was ’n sekere huisheer wat ’n wingerd geplant het; en hy het ’n heining daarom gesit en ’n parskuip daarin gegrawe en ’n wagtoring gebou, en hy het dit aan landbouers verhuur en op reis gegaan.

Lees volledige hoofstuk Matthéüs 21