Ou Testament

Nuwe Testament

Matthéüs 21:15-28 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

15. En toe die owerpriesters en skrifgeleerdes die wonderwerke sien wat Hy gedoen het, en die kinders wat in die tempel uitroep en sê: Hosanna vir die Seun van Dawid! was hulle verontwaardig

16. en sê vir Hom: Hoor U wat hulle daar sê? En Jesus antwoord hulle: Ja, het julle nooit gelees: Uit die mond van kinders en suigelinge het U vir U lof berei nie?

17. En Hy het hulle verlaat en uit die stad uitgegaan na Betánië en daar vernag.

18. EN vroeg in die môre toe Hy teruggaan na die stad, het Hy honger gehad;

19. en Hy sien ’n vyeboom langs die pad en gaan daarnatoe; maar Hy het niks daaraan gevind nie as net blare alleen; en Hy sê vir hom: Laat daar uit jou tot in ewigheid nooit weer ’n vrug kom nie! En onmiddellik het die vyeboom verdroog.

20. En toe die dissipels dit sien, was hulle verwonderd en sê: Hoe het die vyeboom so onmiddellik verdroog?

21. Maar Jesus antwoord en sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle nie alleen doen wat met die vyeboom gebeur het nie; maar al sê julle ook vir hierdie berg: Hef jou op en werp jou in die see — sal dit gebeur.

22. En alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo.

23. EN toe Hy in die tempel gegaan het, kom die owerpriesters en die ouderlinge van die volk na Hom terwyl Hy besig was om te leer, en hulle sê: Deur watter gesag doen U hierdie dinge, en wie het U hierdie gesag gegee?

24. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Ek sal julle ook een ding vra, en as julle dit vir My sê, sal Ek julle ook vertel deur watter gesag Ek hierdie dinge doen.

25. Die doop van Johannes, waar was dit vandaan, uit die hemel of uit mense? En hulle het by hulleself geredeneer en gesê: As ons sê: Uit die hemel — dan sal Hy ons vra: Waarom het julle hom dan nie geglo nie?

26. En as ons sê: Uit mense — dan moet ons oppas vir die menigte, want almal hou Johannes vir ’n profeet.

27. Toe antwoord hulle Jesus en sê: Ons weet nie. Hy sê toe ook vir hulle: Dan vertel Ek julle ook nie deur watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.

28. MAAR wat dink julle? ’n Man het twee kinders gehad, en hy gaan na die eerste en sê: Kind, gaan werk vandag in my wingerd.

Lees volledige hoofstuk Matthéüs 21