Ou Testament

Nuwe Testament

Matthéüs 19:9-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. Maar Ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery, en ’n ander een trou, pleeg egbreuk; en die wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreuk.

10. Sy dissipels sê vir Hom: As die saak van ’n man met ’n vrou so is, dan is dit nie wenslik om te trou nie.

11. Maar Hy sê vir hulle: Almal vat hierdie woord nie, maar net dié aan wie dit gegee is.

12. Want daar is persone wat onbekwaam is om te trou, wat van die moederskoot af so gebore is, en daar is persone wat deur die mense onbekwaam gemaak is, en daar is persone wat hulleself onbekwaam gemaak het ter wille van die koninkryk van die hemele. Wie dit kan vat, laat hom dit vat.

13. TOE bring hulle kindertjies na Hom, dat Hy hulle die hande sou oplê en bid; en die dissipels het hulle bestraf.

14. Maar Jesus sê: Laat die kindertjies staan en verhinder hulle nie om na My te kom nie; want aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele.

15. En Hy het hulle die hande opgelê en daarvandaan vertrek.

16. EN daar kom een na Hom en sê vir Hom: Goeie Meester, watter goeie ding moet ek doen, dat ek die ewige lewe kan hê?

17. En Hy sê vir hom: Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe een, naamlik God. Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie.

18. Hy vra Hom: Watter? En Jesus sê — dit: Jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie egbreek nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie;

19. eer jou vader en moeder; en: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

20. Die jongman sê vir Hom: Al hierdie dinge het ek onderhou van my jeug af. Wat kom ek nog kort?

Lees volledige hoofstuk Matthéüs 19