Ou Testament

Nuwe Testament

Matthéüs 19:2-16 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. En groot menigtes het Hom gevolg, en Hy het hulle daar gesond gemaak.

3. Toe kom die Fariseërs na Hom om Hom te versoek, en sê vir Hom: Is dit ’n man geoorloof om oor allerhande redes van sy vrou te skei?

4. En Hy antwoord hulle en sê: Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie,

5. en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees;

6. sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees? Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.

7. Hulle sê vir Hom: Waarom het Moses dan beveel om ’n skeibrief te gee en van haar te skei?

8. Hy antwoord hulle: Omdat Moses weens die hardheid van jul harte julle toegelaat het om van julle vroue te skei; maar van die begin af was dit nie so nie.

9. Maar Ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery, en ’n ander een trou, pleeg egbreuk; en die wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreuk.

10. Sy dissipels sê vir Hom: As die saak van ’n man met ’n vrou so is, dan is dit nie wenslik om te trou nie.

11. Maar Hy sê vir hulle: Almal vat hierdie woord nie, maar net dié aan wie dit gegee is.

12. Want daar is persone wat onbekwaam is om te trou, wat van die moederskoot af so gebore is, en daar is persone wat deur die mense onbekwaam gemaak is, en daar is persone wat hulleself onbekwaam gemaak het ter wille van die koninkryk van die hemele. Wie dit kan vat, laat hom dit vat.

13. TOE bring hulle kindertjies na Hom, dat Hy hulle die hande sou oplê en bid; en die dissipels het hulle bestraf.

14. Maar Jesus sê: Laat die kindertjies staan en verhinder hulle nie om na My te kom nie; want aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele.

15. En Hy het hulle die hande opgelê en daarvandaan vertrek.

16. EN daar kom een na Hom en sê vir Hom: Goeie Meester, watter goeie ding moet ek doen, dat ek die ewige lewe kan hê?

Lees volledige hoofstuk Matthéüs 19