Ou Testament

Nuwe Testament

Matthéüs 18:11-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. Want die Seun van die mens het gekom om te red wat verlore is.

12. Wat dink julle? As iemand honderd skape het en een van hulle verdwaal, sal hy nie die negen-en-negentig laat staan en op die berge die verdwaalde een gaan soek nie?

13. En as hy hom kry, voorwaar Ek sê vir julle dat hy blyer is oor hom as oor die negen-en-negentig wat nie verdwaal het nie.

14. So is dit nie die wil van julle Vader wat in die hemele is, dat een van hierdie kleintjies verlore gaan nie.

15. EN as jou broeder teen jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. As hy na jou luister, dan het jy jou broeder gewin;

16. maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat in die mond van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan.

17. En as hy na hulle nie luister nie, sê dit aan die gemeente; en as hy na die gemeente ook nie luister nie, laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar.

18. Voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle op die aarde bind, sal in die hemel gebonde wees; en alles wat julle op die aarde ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.

19. Weer sê Ek vir julle: As twee van julle saamstem op die aarde oor enige saak wat hulle mag vra, dit sal hulle ten deel val van my Vader wat in die hemele is.

20. Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde.

21. Toe kom Petrus na Hom en sê: Here, hoe dikwels sal my broeder teen my sondig en ek hom vergewe? Tot sewe maal toe?

22. Jesus antwoord hom: Ek sê vir jou, nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe.

Lees volledige hoofstuk Matthéüs 18