Ou Testament

Nuwe Testament

Matthéüs 16:4-16 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. ’n Slegte en owerspelige geslag soek na ’n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van Jona, die profeet. En Hy het hulle verlaat en weggegaan.

5. En toe sy dissipels na die oorkant gegaan het, het hulle vergeet om brode saam te neem.

6. Daarop sê Jesus vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs.

7. En hulle het onder mekaar geredeneer en gesê: Dit is omdat ons geen brode saamgeneem het nie.

8. Maar Jesus het dit opgemerk en vir hulle gesê: Wat redeneer julle onder mekaar, kleingelowiges, dat julle geen brode saamgeneem het nie?

9. Begryp julle nog nie, en onthou julle nie die vyf brode van die vyfduisend, en hoeveel mandjiesvol julle opgetel het nie?

10. Of die sewe brode van die vierduisend, en hoeveel mandjiesvol julle opgetel het nie?

11. Hoe is dit dat julle nie begryp dat Ek nie in verband met brood vir julle gesê het om op te pas vir die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs nie?

12. Toe het hulle begryp dat Hy nie gesê het dat hulle moes oppas vir die suurdeeg van die brood nie, maar vir die leer van die Fariseërs en Sadduseërs.

13. EN toe Jesus in die streke van Cesaréa-Filíppi kom, vra Hy sy dissipels en sê: Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is?

14. En hulle antwoord: Sommige Johannes die Doper, en sommige Elía, en ander Jeremia of een van die profete.

15. Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek?

16. En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God.

Lees volledige hoofstuk Matthéüs 16