Ou Testament

Nuwe Testament

Matthéüs 15:20-34 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

20. Dit is hierdie dinge wat die mens onrein maak; maar om met ongewaste hande te eet, maak die mens nie onrein nie.

21. EN Jesus het daarvandaan weggegaan en na die streke van Tirus en Sidon vertrek.

22. En ’n Kananése vrou het van daardie gebied gekom en na Hom geroep en gesê: Wees my barmhartig, Here, Seun van Dawid! My dogter is erg van die duiwel besete.

23. Maar Hy het haar nie ’n woord geantwoord nie. Toe kom sy dissipels nader en vra Hom en sê: Stuur haar weg, want sy roep agter ons aan.

24. Maar Hy antwoord en sê: Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel.

25. Daarop kom sy en val voor Hom neer en sê: Here, help my!

26. Maar Hy antwoord en sê: Dit is nie mooi om die brood van die kinders te neem en dit vir die hondjies te gooi nie.

27. En sy sê: Ja, Here, maar die hondjies eet darem van die krummels wat van die tafel van hulle base afval.

28. Toe antwoord Jesus en sê vir haar: o Vrou, groot is jou geloof; laat dit vir jou wees soos jy wil hê. En haar dogter het gesond geword van daardie uur af.

29. TOE gaan Jesus daarvandaan weg en kom by die see van Galiléa; en Hy het op die berg geklim en daar gaan sit.

30. En ondertussen kom daar groot menigtes na Hom met kreupeles, blindes, stommes, gebreklikes en baie ander by hulle, en hulle het dié by die voete van Jesus neergesit, en Hy het hulle gesond gemaak,

31. sodat die skare verbaas was om te sien dat stommes praat, gebreklikes gesond word, kreupeles loop en blindes sien; en hulle het die God van Israel verheerlik.

32. Toe het Jesus sy dissipels na Hom geroep en gesê: Ek voel innig jammer vir die skare, omdat hulle al drie dae by My bly en niks het om te eet nie; en Ek wil hulle nie graag honger wegstuur nie, sodat hulle nie miskien op die pad beswyk nie.

33. En sy dissipels sê vir Hom: Waar sal ons in die woestyn soveel brode vandaan kry om so ’n groot skare te versadig?

34. Toe sê Jesus vir hulle: Hoeveel brode het julle? En hulle antwoord: Sewe, en ’n paar vissies.

Lees volledige hoofstuk Matthéüs 15