Ou Testament

Nuwe Testament

Matthéüs 13:42-57 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

42. en sal hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande.

43. Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.

44. VERDER is die koninkryk van die hemele soos ’n skat wat verborge is in die saailand, wat ’n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand.

45. Verder is die koninkryk van die hemele soos ’n koopman wat mooi pêrels soek;

46. en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit.

47. Verder is die koninkryk van die hemele soos ’n net wat in die see gegooi word en van elke soort bymekaarbring;

48. en as dit vol geword het, trek hulle dit op die strand uit en gaan sit en maak die goeies in bakke bymekaar, maar gooi die slegtes weg.

49. So sal dit wees in die voleinding van die wêreld: die engele sal uitgaan en die slegte mense onder die regverdiges uit afskei

50. en hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande.

51. Jesus sê vir hulle: Het julle ál hierdie dinge verstaan? Hulle antwoord Hom: Ja, Here!

52. Toe sê Hy vir hulle: Daarom is elke skrifgeleerde wat ’n leerling geword het in die koninkryk van die hemele, soos ’n huisheer wat uit sy skat nuwe en ou dinge te voorskyn bring.

53. EN toe Jesus hierdie gelykenisse geëindig het, het Hy daarvandaan weggegaan.

54. En Hy het in sy vaderstad gekom en hulle geleer in hul sinagoge, sodat hulle verslae was en gesê het: Waar kry Hy hierdie wysheid en kragte vandaan?

55. Is Hy nie die seun van die timmerman nie? Is die naam van sy moeder nie Maria en dié van sy broers Jakobus en Joses en Simon en Judas nie?

56. En sy susters, is hulle nie almal by ons nie? Waar kry Hy dan al hierdie dinge vandaan?

57. En hulle het aanstoot aan Hom geneem. Maar Jesus sê vir hulle: ’n Profeet is nie ongeëerd nie, behalwe in sy vaderland en in sy huis.

Lees volledige hoofstuk Matthéüs 13