Ou Testament

Nuwe Testament

Matthéüs 13:38-50 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

38. en die saailand is die wêreld. Die goeie saad — dit is die kinders van die koninkryk, en die onkruid is die kinders van die Bose,

39. en die vyand wat dit gesaai het, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld, en die maaiers is die engele.

40. Net soos die onkruid dan bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit wees in die voleinding van hierdie wêreld:

41. die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen,

42. en sal hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande.

43. Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.

44. VERDER is die koninkryk van die hemele soos ’n skat wat verborge is in die saailand, wat ’n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand.

45. Verder is die koninkryk van die hemele soos ’n koopman wat mooi pêrels soek;

46. en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit.

47. Verder is die koninkryk van die hemele soos ’n net wat in die see gegooi word en van elke soort bymekaarbring;

48. en as dit vol geword het, trek hulle dit op die strand uit en gaan sit en maak die goeies in bakke bymekaar, maar gooi die slegtes weg.

49. So sal dit wees in die voleinding van die wêreld: die engele sal uitgaan en die slegte mense onder die regverdiges uit afskei

50. en hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande.

Lees volledige hoofstuk Matthéüs 13