Ou Testament

Nuwe Testament

Matthéüs 12:32-43 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

32. En elkeen wat ’n woord spreek teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word; maar elkeen wat spreek teen die Heilige Gees, dit sal hom nie vergewe word nie, in hierdie eeu nie en ook in die toekomende nie.

33. JULLE moet òf die boom goed maak en sy vrugte goed, òf julle moet die boom sleg maak en sy vrugte sleg; want aan die vrugte word die boom geken.

34. Addergeslag, hoe kan julle goeie dinge praat terwyl julle sleg is? Want uit die oorvloed van die hart praat die mond.

35. Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn, en die slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn.

36. Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag.

37. Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word.

38. TOE spreek sommige van die skrifgeleerdes en Fariseërs en sê: Meester, ons wil graag ’n teken van U sien.

39. Maar Hy antwoord en sê vir hulle: ’n Slegte en owerspelige geslag soek na ’n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona.

40. Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees.

41. Die manne van Ninevé sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want hulle het hul op die prediking van Jona bekeer, en — meer as Jona is hier!

42. Die koningin van die Suide sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want sy het gekom van die eindes van die aarde af om die wysheid van Salomo te hoor, en — meer as Salomo is hier!

43. En wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus en vind dit nie.

Lees volledige hoofstuk Matthéüs 12