Ou Testament

Nuwe Testament

Matthéüs 11:13-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. Want al die profete en die wet het tot op Johannes geprofeteer.

14. En as julle dit wil aanneem: hy is Elía wat sou kom.

15. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.

16. Maar waarmee sal Ek hierdie geslag vergelyk? Dit is net soos kindertjies wat op die markte sit en na hulle maats roep

17. en sê: Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie; ons het vir julle ’n klaaglied gesing, en julle het nie getreur nie.

18. Want Johannes het gekom en nie geëet of gedrink nie, en hulle sê: Hy het ’n duiwel.

19. Die Seun van die mens het gekom — Hy eet en drink, en hulle sê: Dáár is ’n mens wat ’n vraat en ’n wynsuiper is, ’n vriend van tollenaars en sondaars. Maar die wysheid is geregverdig deur sy kinders.

20. TOE het Hy die stede waarin die meeste van sy kragtige dade plaasgevind het, begin verwyt, omdat hulle hul nie bekeer het nie:

21. Wee jou, Górasin, wee jou, Betsáida! want as in Tirus en Sidon die kragtige dade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle hul lankal in sak en as bekeer het.

22. Maar Ek sê vir julle, dit sal vir Tirus en Sidon verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir julle.

23. En jy, Kapérnaüm, wat tot die hemel toe verhoog is, jy sal tot die doderyk toe neergestoot word; want as in Sodom die kragtige dade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou hy bly staan het tot vandag toe.

Lees volledige hoofstuk Matthéüs 11