Ou Testament

Nuwe Testament

Matthéüs 10:9-26 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. Moenie vir julle goud of silwer of koper in julle beurse aanskaf nie;

10. geen reissak vir die pad of twee kledingstukke of skoene of ’n stok nie; want die arbeider is sy voedsel werd.

11. En in watter stad of dorp julle ook al mag ingaan, ondersoek wie daarin waardig is, en bly dáár totdat julle vertrek.

12. En as julle die huis ingaan, groet dit;

13. en as die huis dit waardig is, laat julle vrede daarop kom, maar as dit nie waardig is nie, laat julle vrede na julle terugkeer.

14. En as iemand julle nie ontvang nie en na julle woorde nie luister nie, gaan uit daardie huis of daardie stad uit en skud die stof van julle voete af.

15. Voorwaar Ek sê vir julle, dit sal vir die land van Sodom en Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir daardie stad.

16. Kyk, Ek stuur julle soos skape onder die wolwe in; wees dan versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe.

17. Maar pas op vir die mense; want hulle sal jul oorlewer aan regbanke, en in hulle sinagoges sal hulle julle gésel.

18. En ook voor goewerneurs en konings sal julle gebring word om My ontwil tot ’n getuienis vir hulle en vir die heidene.

19. Maar wanneer hulle jul oorlewer, moenie julle kwel oor hoe of wat julle sal spreek nie, want dit sal julle in daardie uur gegee word wat julle moet spreek;

20. want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Gees van julle Vader wat in julle spreek.

21. Maar die een broer sal die ander tot die dood oorlewer en die vader sy kind, en die kinders sal teen hulle ouers opstaan en hulle doodmaak.

22. En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.

23. En wanneer hulle julle vervolg in die een stad, vlug na die ander toe. Want voorwaar Ek sê vir julle, julle sal met die stede van Israel sekerlik nie klaar kry voordat die Seun van die mens kom nie.

24. ’n Leerling is nie bo die meester nie en ’n dienskneg ook nie bo sy heer nie.

25. Dit is vir die leerling genoeg dat hy soos sy meester word en die dienskneg soos sy heer. As hulle die heer van die huis Beëlsebul genoem het, hoeveel te meer sy huisgenote!

26. Vrees hulle dan nie; want daar is niks bedek wat nie ontdek sal word nie, en verborge wat nie bekend sal word nie.

Lees volledige hoofstuk Matthéüs 10