Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 9:9-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. En onderwyl hulle van die berg afklim, gee Hy aan hulle bevel om aan niemand te vertel wat hulle gesien het voordat die Seun van die mens uit die dode opgestaan het nie.

10. En hulle het die woord vir hulleself gehou en onder mekaar gevra wat dit beteken om uit die dode op te staan.

11. En hulle vra Hom en sê: Waarom sê die skrifgeleerdes dat Elía eers moet kom?

12. Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Dis waar, Elía kom eers om alles te herstel; en tog, hoe staan daar dan van die Seun van die mens geskrywe dat Hy baie moet ly en verag word?

13. Maar Ek sê vir julle dat Elía al gekom het, en hulle het aan hom gedoen alles wat hulle wou, soos van hom geskrywe is.

14. EN toe Hy by die dissipels kom, sien Hy ’n groot menigte om hulle, en skrifgeleerdes wat met hulle redetwis.

15. En dadelik toe die hele skare Hom sien, was hulle baie verbaas en het na Hom gehardloop en Hom gegroet.

16. Daarop vra Hy die skrifgeleerdes: Waarom redetwis julle met hulle?

17. En een uit die skare antwoord en sê: Meester, ek het my seun wat ’n stomme gees het, na U gebring;

18. en waar hy hom ook aangryp, skeur hy hom; en hy kry skuim in die mond, en hy kners met sy tande en word styf; en ek het u dissipels gevra om hom uit te dryf, en hulle kon nie.

Lees volledige hoofstuk Markus 9