Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 9:36-50 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

36. En Hy neem ’n kindjie en laat hom in hul midde staan en slaan sy arms om hom en sê vir hulle:

37. Elkeen wat een van sulke kindertjies ontvang in my Naam, ontvang My. En elkeen wat My ontvang, ontvang nie My nie, maar Hom wat My gestuur het.

38. TOE antwoord Johannes Hom en sê: Meester, ons het iemand gesien wat in u Naam duiwels uitdryf en wat ons nie volg nie; en ons het hom belet, omdat hy ons nie volg nie.

39. Maar Jesus sê: Moet hom nie belet nie, want daar is niemand wat ’n krag in my Naam sal doen en gou van My sal kan kwaadspreek nie;

40. want wie nie teen ons is nie, is vír ons.

41. Want elkeen wat vir julle in my Naam ’n beker water gee om te drink, omdat julle aan Christus behoort, voorwaar Ek sê vir julle, hy sal sy loon sekerlik nie verloor nie.

42. EN elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is beter vir hom as ’n meulsteen om sy nek gehang en hy in die see gegooi word.

43. En as jou hand jou laat struikel, kap dit af. Dit is beter vir jou om vermink die lewe in te gaan, as om twee hande te hê en in die hel te gaan in die onuitbluslike vuur,

44. waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie.

45. En as jou voet jou laat struikel, kap dit af. Dit is beter vir jou om kreupel die lewe in te gaan, as om twee voete te hê en in die hel gewerp te word in die onuitbluslike vuur,

46. waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie.

47. En as jou oog jou laat struikel, pluk dit uit. Dit is beter vir jou om met een oog die koninkryk van God in te gaan, as om twee oë te hê en in die helse vuur gewerp te word,

48. waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie.

49. Want elkeen sal met vuur gesout word en elke offerande sal met sout gesout word.

50. Die sout is goed, maar as die sout souteloos word, waarmee sal julle dit smaaklik maak? Julle moet sout in julle hê en vrede hou met mekaar.

Lees volledige hoofstuk Markus 9