Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 9:1-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN Hy sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die koninkryk van God met krag sien kom het nie.

2. EN ná ses dae het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes saamgeneem en hulle alleen op ’n hoë berg in die eensaamheid geneem; en Hy het voor hulle van gedaante verander,

3. en sy klere het blink geword, baie wit soos sneeu, wit soos geen bleiker op aarde dit kan maak nie.

4. En daar het aan hulle verskyn Elía saam met Moses, en hulle was in gesprek met Jesus.

5. Toe spreek Petrus en sê vir Jesus: Rabbi, dit is goed dat ons hier is. Laat ons dan drie hutte maak: vir U een en vir Moses een en vir Elía een.

6. Want hy het nie geweet wat om te sê nie, want hulle was heeltemal verskrik.

7. En daar kom ’n wolk wat hulle oordek; en uit die wolk kom ’n stem wat sê: Dit is my geliefde Seun, luister na Hom!

8. En meteens kyk hulle rond en sien niemand meer by hulle nie, behalwe Jesus alleen.

9. En onderwyl hulle van die berg afklim, gee Hy aan hulle bevel om aan niemand te vertel wat hulle gesien het voordat die Seun van die mens uit die dode opgestaan het nie.

10. En hulle het die woord vir hulleself gehou en onder mekaar gevra wat dit beteken om uit die dode op te staan.

11. En hulle vra Hom en sê: Waarom sê die skrifgeleerdes dat Elía eers moet kom?

12. Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Dis waar, Elía kom eers om alles te herstel; en tog, hoe staan daar dan van die Seun van die mens geskrywe dat Hy baie moet ly en verag word?

13. Maar Ek sê vir julle dat Elía al gekom het, en hulle het aan hom gedoen alles wat hulle wou, soos van hom geskrywe is.

14. EN toe Hy by die dissipels kom, sien Hy ’n groot menigte om hulle, en skrifgeleerdes wat met hulle redetwis.

15. En dadelik toe die hele skare Hom sien, was hulle baie verbaas en het na Hom gehardloop en Hom gegroet.

Lees volledige hoofstuk Markus 9