Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 8:13-28 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. En Hy het hulle verlaat en weer in die skuit geklim en na die oorkant gegaan.

14. En hulle het vergeet om brode saam te neem, en het net een brood by hulle in die skuit gehad.

15. En Hy het hulle beveel en gesê: Pas op, wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en die suurdeeg van Herodes.

16. Toe redeneer hulle onder mekaar en sê: Dit is omdat ons geen brode het nie.

17. En Jesus merk dit en sê vir hulle: Waarom redeneer julle dat julle geen brode het nie? Begryp julle nie en verstaan julle nie? Het julle nog jul verharde hart?

18. Het julle oë en sien julle nie? En het julle ore en hoor julle nie?

19. En onthou julle nie toe Ek die vyf brode vir die vyfduisend gebreek het, hoeveel mandjies vol brokstukke julle opgetel het nie? Hulle sê vir Hom: Twaalf.

20. En die sewe vir die vierduisend — hoeveel mandjies vol brokstukke het julle opgetel? En hulle sê: Sewe.

21. Toe sê Hy vir hulle: Hoe verstaan julle dan nie!

22. EN Hy het in Betsáida gekom, en hulle het ’n blinde man na Hom gebring en Hom gesmeek om hom aan te raak.

23. Hy neem toe die blinde by die hand en lei hom uit buitekant die dorp; en nadat Hy in sy oë gespuug en hom die hande opgelê het, vra Hy hom of hy iets sien.

24. En hy kyk op en sê: Ek sien die mense, want ek sien hulle soos bome rondloop.

25. Daarna lê Hy weer die hande op sy oë en laat hom opkyk, en hy is herstel en het almal van ver af duidelik gesien.

26. En Hy het hom na sy huis gestuur en gesê: Moenie in die dorp gaan of dit aan iemand in die dorp vertel nie.

27. EN Jesus en sy dissipels het uitgegaan na die dorpe van Cesaréa-Filíppi; en op die pad vra Hy sy dissipels en sê vir hulle: Wie sê die mense is Ek?

28. En hulle antwoord: Johannes die Doper, en ander: Elía, en ander: Een van die profete.

Lees volledige hoofstuk Markus 8